Finland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Suomen tasavalta (Fins)
Republiken Finland (Sweeds)
Republiek Finland
Vlag van Finland Wapen van Finland
Vlag Wapen
Volkslied: Maamme (Fins)
Vårt land (Sweeds)
(Afrikaans: "Ons Land")
Ligging van Finland
Hoofstad Helsinki (Helsingfors)

60°10′N 24°56′O / 60.167°N 24.933°O / 60.167; 24.933Koördinate: 60°10′N 24°56′O / 60.167°N 24.933°O / 60.167; 24.933

Grootste stad Helsinki (Helsingfors)
Amptelike tale Fins en Sweeds
Regering Unitêre parlementêre
grondwetlike republiek
Sauli Niinistö
Sanna Marin
Onafhanklikheid
• Outonomie
binne Rusland
• Onafhanklikheid van
die Russiese SFSR
• Eerste erkenning deur
die Russiese SFSR
• Huidige grondwet


29 Maart 1809

6 Desember 1917

4 Januarie 1918
1 Maart 2000
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
338 424 km2  (64ste)
130 666 myl2
10
Bevolking
 - 2019-skatting
 - 2017-sensus
 - Digtheid
 
5 521 158[1] (114de)
5 513 000[2]
16 / km2 (213de)
41,4 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2019-skatting

$264,720 miljard[3] (60ste)
$47 975[3] (24ste)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2019-skatting

$269,654 miljard[3] (43ste)
$48 869[3] (14de)

MOI (2017) Green Arrow Up Darker.svg 0,920[4] (15de)  –  baie hoog
Gini (2015) 27,1[5](6de) –  laag
Geldeenheid Euro (€) (EUR)
Tydsone
 - Somertyd
OET (UTC+2)
OEST (UTC+3)
Internet-TLD .fi
Skakelkode +358

Finland (Fins: Suomi, [suo̯mi], ; Sweeds: Finland, [ˈfɪnland], ), amptelik Republiek Finland (Fins: Suomen tasavalta, Sweeds: Republiken Finland, ), is 'n land in Noord-Europa wat in die ooste aan die Russiese Federasie, in die noordweste aan Swede en in die noorde aan Noorweë grens. Ten suide word dit van Estland geskei deur die Finse Golf. Wes vind mens die Botniese Golf en suidwes die Oossee wat Finland van sy buurland Swede skei. Net in die noordweste het die twee lande 'n gemeenskaplike landgrens.

Nasa-Satellietbeeld van Finland
Kaart van Finland

Finland word, net soos Ysland, soms beskryf as 'n Skandinawiese land alhoewel Skandinawië streng gesproke beperk is tot Swede, Noorweë en Denemarke. Ook in taalkundige opsig verskil Finland van sy Skandinawiese buurlande omrede Fins, net soos die nouverwante Estnies en ook Hongaars, tot die nie-Indo-Europese Fins-Oegriese taalfamilie behoort.

Die hoofstad en grootste stad is Helsinki (Helsingfors in Sweeds). Die Finse Republiek (Suomen Tasavalta) het in 1917 totstand gekom nadat die land sedert die twaalfde eeu deur Swede en later Rusland oorheers is.

Die huidige Sweedssprekende minderheid van sowat ses persent van die bevolking is 'n erfenis uit die tydperk van die Sweedse heerskappy waaronder Finland tussen 1150 en 1809 gestaan het. Sweedssprekendes vorm in sommige dorpe langs die suid- en ooskus en op die outonome Åland-eilande selfs die meerderheid. 'n Groter aantal dorpe en stede is tweetalig, soos byvoorbeeld Helsinki en Turku, en gebruik Sweedse naas Finse plek- en straatname.

Met sy ligging tussen die 60ste en 70ste noordelike breedtegraad behoort Finland saam met sy Skandinawiese buurlande Noorweë en Swede en Rusland tot die mees noordelike state op die Europese vasteland. Sowat 'n derde van Finland se totale oppervlakte van sowat 338 000 vierkante kilometer lê binne die Arktiese Sirkel. Nogtans het die mees noordelike provinsie Lapland danksy die Noord-Atlantiese Seestroom 'n sagter klimaat as ander gebiede op dieselfde breedtegraad soos Kanada en Siberië. Vanweë hierdie warm seestroom bly Europa se Arktiese kuslyn tydens die winter ook ysvry.

Die Finse somers is warm maar kort, met gemiddelde temperature van 17 °C in die hoofstad Helsinki en 13 °C in Lapland.[6] Vanweë die noordelike ligging is die somerdae baie lank, en in die Arktiese gebiede word dit in Junie, wanneer die middernagson skyn, glad nie meer nag nie. Daarenteen is die Finse winters lank en koud, met 'n gemiddelde temperatuur van -6 °C in Helsinki gedurende Januarie, terwyl die dae baie kort is. In koue winters raak die oppervlak van die Oossee oor 'n afstand van enkele kilometer vanaf die kuslyn dikwels bevrore sodat ysbrekers benodig word om die seehawens oop te hou. Sneeuvalle is egter gewoonlik nie swaar nie sodat die verkeer selfs in Lapland nie ontwrig word nie.

Finland word die "land van 'n duisend mere" genoem. Veral in die suidooste is die land bespikkel met ontelbare mere en meertjies.

Baie van Finland se groot stede soos Tampere, Jyväskylä and Kuopio, is langs van die groot mere geleë.

Die grootste konsentrasie van eilande kan na die suidweste van die land aan die Archipelago See, wat tussen die Finland en die eiland Åland geleë is, gevind word.

Die land is 'n demokratiese republiek met 'n direk verkose president, wat maksimaal vir twee ampstermyne van ses jaar mag dien. Finland het in historiese en politieke opsig nou bande met sy buurstaat Swede. Ná die tweede onafhanklikheid van Estland het Finland ook nou betrekkinge met dié Baltiese land.

Geografie[wysig | wysig bron]

Kaart van Finland
Klimaatsones in Finland volgens die Köppen-klimaatklassifikasie
Oggendmis oor die klein Kalliolampi-meer naby Puolanka

Met 'n oppervlakte van 338 424 vierkante kilometer is Finland effens kleiner as Duitsland, maar behoort met sy bevoking van 5,5 miljoen tot die ylste bevolkte gebiede in Europa. Met sy ligging tussen die 60ste en 70ste breedtegrade is dit ook een van die mees noordelike lande ter wêreld – sowat 'n derde van Finland se totale oppervlakte lê binne die Arktiese Sirkel, en meer as 30 persent van alle mense op Aarde, wat noord van die 60ste breedtegraad leef, is Finne.[7]

In noord-suidelike rigting strek Finland oor 'n afstand van 1 160 kilometer vanuit Nuorgam tot Hanko aan die suidkus, terwyl die land sy grootste wydte in wes-oostelike rigting met 540 kilometer tussen Ilomantsi en Närpes bereik. Vir geografiese doeleindes word na alle gebiede noord van die Oulujärvi as "Noord-Finland" verwys sodat ook Oulu, wat eintlik in Sentraal-Finland geleë is, as 'n Noord-Finse stad beskou word, terwyl die landskap rondom Jyväskylä ondanks sy suidelike ligging as "Sentraal-Finland" bekend staan.

Finland se langste grenslyn met 'n buurstaat is die oostelike grens met die Russiese Federasie. In die noorde grens Finland oor 'n afstand van meer as 716 kilometer aan Noorweë, terwyl die grens met Swede (536 kilometer) in die noordweste deur die riviere Könkämäeno, Muonionjoki (Sweeds: Muonio älv) en Tornionjoki (Torne älv) gevorm word.

In die weste grens Finland aan die Botniese Golf en in die suide aan die Finse Golf wat albei deel uitmaak van die Oossee. Byna alle Finse riviere mond in hierdie see uit, met uitsondering van die land se uiterste noordooste anderkant die Maanselkä wat in die Arktiese Oseaan dreineer. Vanweë die lae verdamping en die bestendige toevoer van soet water is die soutgehalte van Finland se seewaters aansienlik laer as dié van ander seegebiede: met 'n saliniteit van minder as 0,3 persent word in die noordelike Botniese Golf ook soetwatervisse aangetref.

Finland is eweneens bekend as "die Land van die Duisend Mere".[8][9]

Die opvallendste kenmerk van Finland se landskap is die rykdom aan mere wat aan hierdie Skandinawiese land die bynaam "Land van duisend mere" besorg het. Volgens amptelike statistieke word slegs waterliggame met 'n oppervlakte van ten minste 500 vierkante meter as meer beskou – nogtans beraam die Finse Departement van Omgewingsake die totale aantal mere in die land op 187 888, waarvan sowat 56 000 'n oppervlakte van ten minste een hektaar het.[10] Die Saimaameer is Finland se grootste meer en naby die grens met Rusland geleë.

Die totale kuslengte van Finse mere beloop ten minste 186 700 kilometer, die aantal binnelandse eilande word op 98 050 beraam.[11]

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

Gebiede wat deur Finland aan die Sowjetunie afgestaan is ná die Tweede Wêreldoorlog. Die Porkkala-landhuur is in 1956 aan Finland teruggegee
Kaart van Finland in 1662
Finland tussen 1920 en 1940

Die vroegste bewyse van bewoning van die huidige Finland dateer uit ongeveer 100 000 jaar gelede. Die Romeinse geskiedskrywer Tacitus maak melding van die Fenni, 'n volk in die noorde van Finland waarmee hy waarskynlik die Sami (Lappe) bedoel.

Die onlangse Finse geskiedenis is nou verbonde aan veral Swede en Rusland. Finland het tot 1809 vir ses eeue deel uitgemaak van die Sweedse koninkryk. Nadat in die jaar die Vrede van Hamina geteken is, het dit tot 1917 deel uitgemaak van Rusland. In 1917 het die Russiese Rewolusie uitgebreek en het Finland eensydig sy onafhanklikheid op 6 Desember 1917 verklaar.

Daarna het 'n bloedige burgeroorlog tussen die 'Rooi' en 'Wit' ondersteuners gevolg. Laasgenoemde het onder leiding van generaal Mannerheim geseëvier. Ná afloop van die burgeroorlog is Finland op 9 Oktober 1918 tot koninkryk verklaar onder Väinö I. Ná slegs twee maande het die monarg afstand van die troon gedoen, en Finland het 'n republiek geword. Op 14 Oktober 1920 is daar 'n vredesverdrag met die Sowjetunie gesluit in Tartu (Estland); die Vrede van Tartu. Daarin het Finland vroeëre aansprake op gebiede met 'n bevolking van Finse oorsprong (Aunus, Noord-Ingermanland en Oos-Karelië) laat vaar.

In die winter van 1939–1940 het die Winteroorlog (Talvisota) met die Sowjetunie uitgebreek. Die Russe wou ter wille van die beskerming van Sint Petersburg Finse grondgebied gebruik en voorkom dat die Duitsers hulle invloed in Finland uitbrei. Ondanks die ongelyke magsverhouding het Finland daarin geslaag om die Russiese aanval te weerstaan en sy onafhanklikheid te bewaar. Die Finse grensgebied is wél deur die Russe ingeneem.

Finland het 'n bondgenootskap met Nazi-Duitsland aangegaan en aan die Operasie Barbarossa, soos Nazi-Duitsland se aanval op die Sowjetunie genoem is, en lang verlore gebiede van die Sowjetunie herower in die Vervolgoorlog (Jatkosota).

Op 5 September 1944 het Finland 'n vredesooreenkoms met die Sowjetunie gesluit waarvolgens grondgebied afgestaan moes word (o.a. Karelië en Vyborg) en die Sowjetunie die beheer oor 'n hawe aan die Finse Golf gekry het. Verder moes vergoeding betaal word in die vorm van industriële goedere. Hoewel die Vervolgoorlog met ingrypende vredesvoorwaardes afgesluit is, kon Finland sy onafhanklikheid bewaar.

Die naoorlogse jare is gekenmerk deur herstelbetaling en heropbou, gepaardgaande met relatief groot ekonomiese afhanklikheid van die Sowjetunie. Van 1956 tot 1982 was Urho Kekkonen sonder onderbreking president van Finland. Ná die ineenstorting van die Sowjetunie in 1991 het Finland 'n ekonomiese krisis ondervind waarvan die land sedertdien meer as herstel het. In 1995 het Finland lid van de Europese Unie geword, en in 2002 is die markka ingeruil vir die Euro.

Demografie[wysig | wysig bron]

Finse volksdansers
Verspreiding van die Sweedse bevolking in Finland

Romeinse geskiedskrywers het na die bewoners van die Noordoos-Europese oerwoude as fenni verwys. Die gebied was steeds yl bevolk – historici beraam die fenni-bevolking op sowat 100 000, en hierdie syfer het net geleidelik gestyg tot 400 000 in die 17de eeu en omstreeks een miljoen teen die begin van die Russiese heerskappy in die vroeë 19de eeu.[12]

In die tweede helfte van die 20ste eeu het Finland daarenteen 'n vinnige bevolkingsgroei ervaar sodat die inwonerstal in 1950 die vier-miljoenkerf oorskry, en danksy die relatief hoë geboortesyfer het die Finse bevolking in 1991 reeds vyf miljoen beloop. In de vroeë 21ste eeu het die jaarlikse bevolkingsgroei na 0,3 persent afgeneem. Die totale bevolking het in 2019 5 521 158 beloop.[1]

In vergelyking met ander Europese lande word Finland se bevolking deur 'n relatief mono-etniese struktuur gekenmerk – naas inheemse etniese groepe (91 persent Finssprekende en 5,4 persent Sweedssprekende Finne, naas sowat 17 000 Same of Samit) was die aandeel buitelanders in 2008 nog beperk tot minder as drie persent. Van die altesaam 143 256 buitelanders in laat 2008 was onder meer 26 909 Russiese, 22 604 Estlandse en 8 439 Sweedse burgers.[13]

Ekonomie[wysig | wysig bron]

Finland se "ekonomiese wonder"[wysig | wysig bron]

Die Fins-vervaardigde plesierboot MS Sea Diamond in Rhodos-hawe, Griekeland. Die skip is oorspronklik as MS Birka Princess vir die Ålandse redery Birka Line gebou en het in 2007 naby 'n Griekse eiland vergaan
Die huidige hoofkwartier van Nokia in Espoo naby Helsinki

Na die ekonomiese ontwikkeling van Finland in die 20ste eeu word dikwels as 'n "ekonomiese wonder" verwys.[14] Alhoewel die industrialisering reeds in die 19de eeu begin het (katoenspinnerye, papiermeule en ysterverwerking was in hierdie periode die belangrikste nywerhede wat veral in Tampere, die "Finse Manchester", gekonsentreer was), het Finland tot in die 20ste eeu een van die armste lande in Europa met 'n oorwegend agrariese bevolking gebly. Nog omstreeks 1950 het drie derdes van die Finne in landelike gebiede gewoon, terwyl die nywerheidsektor slegs sowat 'n kwart van alle werkgeleenthede verteenwoordig het en die maandelikse inkomste van werkers laer as die gemiddeld in Europa was.

Dit was juis die reparasies, wat Finland ná die Tweede Wêreldoorlog aan die Sowjetunie moes betaal, wat die aanleiding vir die eerste Finse ekonomiese wonder gegee het. Die land was destyds genoodsaak om sy nywerhede op 'n grootskaalse manier uit te brei en te herstruktureer om aan Moskou se eise te kan voldoen. Binne 'n relatief kort tydperk het die land sy nywerheidsektor gediversifiseer en sy afhanklikheid van die enigste beduidende uitvoerproduk – hout – aansienlik verminder. Die Finse bruto geografiese produk (BGP) het in die periode tussen 1950 en 1974 met gemiddeld vyf persent gegroei. In die 1980's het die tempo van groei selfs versnel tot jaarliks ses persent.

Binne twee dekades het Finland danksy sy groot uitvoere na die destydse Sowjetunie en die Europese Ekonomiese Gemeenskap van 'n landbouekonomie tot een van die mees gevorderde nywerheidslande in Europa ontwikkel. Een van Finland se belangrikste maatskappye, Nokia, is eksemplaries van die omvattende herstrukturering wat in die Finse ekonomie geïmplementeer is. Nokia is genoem na 'n klein dorpie naby Tampere waar die maatskappy oorspronklik sy hoofkwartier gehad het. Aanvanklik was Nokia niks meer as 'n gewone klein sakeonderneming wat byna honderd jaar lank in die tradisionele hout- en papierbedryf gewortel was nie. Eers danksy die samesmelting met 'n rubberfabriek in 1965 het Nokia sy produkportfolio begin uitbrei. In die volgende jare het Nokia 'n aantal bekende ondernemings uit die elektroniese bedryf – waaronder vervaardigers van kabels en televisietoestelle soos Salora en Luxor en die IT-afdeling van die Sweedse maatskappy Ericsson – oorgeneem en steeds meer kennis op hierdie gebied versamel. Papier en rubberskoene is steeds deur Nokia vervaardig, tog het die maatskappy ook begin om televisietoestelle, selfone en skyfies te ontwikkel en uiteindelik tot een van die beduidendste internasionale ondernemings in die elektroniese en inligtingstegnologiebedryf gegroei. Tussen 1998 en 2011 was dit selfs die wêreldmarkleier in die selfoonbedryf.[15]

Ander beduidende Finse maatskappye is die petrochemiese reus Neste Oy wat in 1948 gestig is en vandag as een van die leidende ontwikkelaars en vervaardigers van skoon brandstowwe bekend staan en 'n netwerk van moderne vulstasies in die Baltiese lande, Pole en Rusland opgebou het; Kone Oy, die derde grootste vervaardiger van hysbakke ter wêreld waarmee onder meer wolkekrabbers in Manhattan, Singapoer en Hongkong toegerus is; Valmet, een van die beduidendste papiervervaardigers ter wêreld wat in 1999 met Rauma tot die nuwe maatskappy Metso saamgesmelt het; en Vaisala, wat meetinstrumente vir weerkundige doeleindes asook die meting van radioaktiwiteit en osoonkonsentrasies vervaardig. Sedert die eerste ysbrekers in die 19de eeu in die hawestad Turku ontwikkel is, het ook skeepsbou tot een van die sleutelbedrywe van die Finse ekonomie gegroei. Meer as die helfte van alle ysbrekers wat wêreldwyd van stapel loop word in Finland ontwerp. Daarnaas word ook luukse plesierbote, spesiale skepe vir siviele en militêre doeleindes, jagte en diesel-enjins in Finland vervaardig.

Land- en bosbou[wysig | wysig bron]

Houtoes in Pirkanmaa

Die landbousektor was nog tot in die 1950's die belangrikste bron van inkomste vir die ekonomies aktiewe bevolking. As gevolg van landhervormings was die gemiddelde oppervlakte van plase relatief klein, tog het die verkoop van bosgebiede en werkgeleenthede in die bosbou 'n bykomende inkomste aan Finse boere verskaf.[16] Die landbousektor speel nog steeds 'n beduidende rol in die Finse ekonomie en samelewing – saam met verwante nywerhede bied hierdie bedryf sowat 300 000 werksgeleenthede en het in 2006 2,6 persent tot Finland se bruto geografiese produk bygedra.[17][18]

Die Finse landbousektor floreer in 'n klimatiese konteks wat met 'n kort groeiperiode, onreëlmatige reënval en suur moerasgrond allesbehalwe gunstige omstandighede vir intensiewe boerdery skep. Die landbouoppervlakte is dan ook beperk tot 2,2 miljoen hektaar of 6,5 persent van Finland se totale oppervlakte. Die Finse graangebiede in die suidelike en westelike kusstreke is die mees noordelike ter wêreld – hier word veral gars, hawer en koring verbou en daarnaas ook varke geteel. Die graanopbrengs per hektaar is laer as in Sentraal-Europa. Die kwik daal dikwels enkele dae ná die oestyd vir die eerste keer benede vriespunt.

Boere in Sentraal- en Oos-Finland spits hulle veral op beesteelt toe; suiwelprodukte verteenwoordig meer as 40 persent van die totale landbouproduksie. Lapland asook dele van Nordösterbotten en Kainuu is tradisionele rendierteeltgebiede. Finland se rendiertelers beskik altesaam oor meer as 200 000 diere.[19]

In teenstelling met Swede en Noorweë is rendierteelt in Finland geen voorreg vir die inheemse Sami-minderheid nie, sodat hierdie beroep ook vir die meerderheidsbevolking toeganklik is.

Met die Finse toetreding tot die Europese Unie (EU) het die Finse landbousektor ingrypende veranderings ondergaan. Die nasionale mark vir landbouprodukte was voorheen danksy 'n proteksionistiese beleid beskerm teen invoere. Ná 1995 het die pryse vir produsente skielik met meer as 'n derde gedaal. Die Gemeenskaplike Landboubeleid van die EU maak nogtans voorsiening vir die bewaring van die landbousektor in alle Europese geweste en finansiële steun vir gebiede wat as gevolg van strukturele en natuurlike omstandighede benadeel is. Finse boere trek sodoende voordeel uit die EU se praktyk van subsidiëring, terwyl die plaaslike landbousektor 'n merkwaardige konsentrasieproses ondergaan: Die aantal boerderye, wat in die 1990's nog sowat 100 000 beloop het, het verminder tot byna 80 000 in 2000 en 65 802 in 2008. Die gemiddelde oppervlakte (15 hektaar in die 1990's) het toegeneem tot 28 hektaar in 2000 en 35 hektaar in 2008.[20]

Houtverwerkingsaanlegte bied sowel werksgeleenthede asook 'n bron van inkomste vir boseienaars – 58 persent van die Finse bosgebiede is in privaat besit, en een uit elke vyf Finse gesinne beskik oor bosgrond. Jaarliks word sowat 60 miljoen kubieke meter hout gekap, tog maak die Finse houtbedryf op volhoubare wyse gebruik van inheemse houtbronne. Nogtans bly die kap van bome in Noord-Finse oerwoude omstrede.[21]

Krisisjare[wysig | wysig bron]

'n Papiermeul van Stora Enso in Oulu (Uleåborg)

In die 1980's het Finland 'n enorme ekonomiese insinking beleef nadat die land sy uitvoermarkte in Oos-Europa verloor het en tegelykertyd ook die binnelandse vraag ineengestort het. Hoë rentekoerse en 'n geweldige publieke skuldlas het die krisis verskerp. Die werkloosheidsyfer het van drie tot meer as twintig persent gestyg en was saam met dié van Spanje die hoogste in Europa.

Die Finse ekonomie het eers ná drie krisisjare in 1992 geleidelik begin herstel, en teen die middel van die negentigerjare het selfs 'n groot opswaai ingetree wat dikwels as die tweede ekonomiese wonder in Finland beskryf word. Veral die devaluasie van die Finse markka het 'n gunstige invloed op die uitvoersektor uitgeoefen – tussen 1993 en 1995 het die uitvoere met jaarliks 13 persent gestyg en sodoende ook die nywerheidsproduksie gestimuleer. Die staatsektor is met effektiewe besuinigingsmaatreëls gestabiliseer, terwyl die Finse staat met die privatisering van staatsbeheerde ondernemings 'n inkomste van twintig miljard markka verdien het. Die beduidendste openbare ondernemings, wat vanaf 1994 geleidelik geprivatiseer is, was die Finse Telekom (TELE); die Finse spoorwegmaatskappy VR; Rautaruukki, die tweede grootste staalvervaardiger in Skandinawië; die chemiese reus Kemira; en die energieverskaffer Imatran Voima.

Die konsolidasieproses in die staatssektor was reeds in 1996 afgesluit, en die inflasiekoers was vanaf 1994 enkele jare lank net omstreeks een persent. Finland het aan alle voorwaardes vir die invoering van die Europese geldeenheid Euro voldoen. Sowel verbruikers asook ondernemings het voordeel uit die omskakeling na die Euro getrek – voedselpryse is aansienlik verlaag sodat die besteebare inkomste van Finne aan die toeneem was en die aanleiding tot verdere ekonomiese groei gegee het. Die winste van ondernemings het in hierdie periode sterk gestyg.

In 2015 was Finland opnuut besig om op 'n ekonomiese krisis af te stuur nadat sy ekonomie in die derde kwartaal die slegste gevaar het in die Eurosone en met 0,6 persent gekrimp het.[22] Werkloosheid het toegeneem van 6,2 persent vroeg in 2008 tot 9,5 persent vroeg in 2016.

Die land se ekonomiese moeilikhede het voortgespruit uit 'n sterk dalende vraag na Finse goedere in Rusland, 'n verlaagde internasionale mededingendheid weens hoë arbeidskoste, en die agteruitgang van Nokia, Finland se vroeëre nywerheidsreus. Naas Nokia kon ook die Finse papierbedryf nie meer die uitdaging bemeester wat 'n nuwe generasie slimfone en e-boeklesers gebied het nie – die vervanging van gedrukte media deur internet-dienste, digitale koerantuitgawes en e-boeke.[23] Daarnaas het die Finse staatsuitgawes, wat persentasiegewys onder die hoogstes in Europa gereken word, sorgwekkende vlakke bereik.

Politiek[wysig | wysig bron]

Finland se parlement in Helsinki
Die huidige president Sauli Niinistö
Die huidige eerste minister Sanna Marin

Staatshoofde van Finland sedert Oktober 1918:

Ander bekende (politieke) persoonlikhede

Finse politieke partye

  • KESK (Sentrumparty; gematig regs)
  • SDP (Sosiaal-demokrate)
  • LKP (Liberale Volksparty; liberaal)
  • KD (Christen-demokrate)
  • SFP (Sweedse Volksparty; gematig regs, party vir die Sweedse minderheid)
  • KOK (Nasionale Koalisieparty; sentraal-regs)
  • VAS (Linkse Volksparty; links-sosialisties)
  • IKL ([1932–1944] Patriotiese Beweging; fascisties)
  • ML ([1906–1965] Agrariese Liga; gematig regs; vanaf 1965 = Sentrumparty)
  • SKDL ([1944–1991] Volksdemokratiese Party; links-sosialisties/kommunisties)

Boukuns[wysig | wysig bron]

Romaanse boukuns[wysig | wysig bron]

Romaanse veldsteenkerk in Hammarland, Åland

Die suidweste van Finland is eers vanaf die middel van die 12de eeu gekersten. Henrik, biskop van Uppsala in Swede, het in 1156 tydens 'n sendingreis die martelaardood gesterf en is in die voorganger van die huidige kerk te Nousiainen begrawe. Afgesien van 'n sendingsbisdom is die eerste bisdom van Finland eers in 1276 in Turku (Åbo) gestig.

Die wêreldlike en sakrale houtgeboue uit die Romaanse periode het nie bewaar gebly nie. Die steengeboue uit hierdie tydperk, waaronder 125 middeleeuse steenkerke, is merendeels van veldstene gebou en vanweë hul eenvoudige binneruimtes sonder versierings moeilik om te dateer. Die voorganger van Turku se huidige domkerk is in die eerste helfte van die 13de eeu as houtkerk opgerig.

Die sakrale boukuns van Åland, waaronder die veldsteensaal van Hammarland (laat 14de eeu) en die steensakristie in Finström uit die tweede helfte van die 13de eeu, wat deel uitmaak van 'n houtkerk, word eweneens by die Romaanse stylperiode gereken.[24]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. 1,0 1,1 "Finland's preliminary population figure 5,521,158 at the end of June". Tilastokeskus.fi (in Engels). Statistiek Finland. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 November 2019. Besoek op 10 Desember 2019.
  2. "Arabic became the third largest foreign-language group". Tilastokeskus.fi (in Engels). Statistics Finland. 29 Maart 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 November 2019. Besoek op 10 Desember 2019.
  3. 3,0 3,1 3,2 3,3 (en) "Finland". Internasionale Monetêre Fonds. Oktober 2019. Besoek op 10 Desember 2019.
  4. "2018 Human Development Report" (PDF) (in Engels). United Nations Development Programme. 2018. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 9 Mei 2020. Besoek op 10 Desember 2019.
  5. "Gini Index" (in Engels). Wêreldbank. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 10 Desember 2019.
  6. (en) Stonehouse, Dr. Bernhard (red.): Philips' Illustrated Atlas of the World. Londen: Guild Publishing 1985, bl. 39
  7. (de) Ulrich Quack: Finnland. Keulen: Dumont 1997, bl. 19
  8. Li, Leslie (1989-04-16). "A Land of a Thousand Lakes". The New York Times (in Engels). Besoek op 2021-12-29.
  9. Statistieke van Finland
  10. (fi) Suomen Järvet – Finse Departement van Omgewingsake Geargiveer 30 September 2007 op Wayback Machine
  11. (en) M. Raatikainen en E. Kuusisto: The Number and Surface Area of the Lakes in Finland. In: Terra, volume 102, nommer 2, bl. 97–110
  12. (de) Quack (1997), bl. 19
  13. (en) Statistics Finland – Foreigners in Finland
  14. (de) Quack (1997), bl. 41
  15. (en) BBC News, 27 April 2012: Samsung overtakes Nokia in mobile phone shipments. Besoek op 19 November 2014
  16. (de) Hier ist Finnland. Helsinki: Otava 1999, bl. 90
  17. (de) Der Fischer Weltalmanach 2009. Frankfurt am Main: Fischer Taschenbuch Verlag 2008, bl. 174
  18. (en) Finse Departement van Landbou Geargiveer 30 Julie 2012 op Wayback Machine
  19. (fi) Navorsingsinstituut vir wildteelt en vissery Geargiveer 29 Junie 2007 op Wayback Machine
  20. (en) Statistics Finland
  21. (fi) Greenpeace Finland
  22. (en) www.telegraph.co.uk: Finland emerges as the 'new sick man of Europe' as euro's worst performing economy, 13 November 2015. Besoek op 22 November 2015
  23. (en) BBC News, 29 Februarie 2016: Finland: The sick man of Europe? Besoek op 1 Maart 2016
  24. (en) Rolf Toman: Romanik. Architektur • Skulptur • Malerei. h.f. ullman/Tandem 2007, bl. 253

Bronnelys[wysig | wysig bron]

Algemeen

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]