Krieket

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Piktogram wat krieket aandui
'n Kriekettoets in spel
Veld met bouler, die twee kolwers en 'n skeidsregter

Krieket (Engels: cricket) is 'n bal-en-kolfsport wat gewoonlik tussen twee spanne van elf spelers elk gespeel word. Dit het in Engeland ontstaan en word hoofsaaklik in die lande van die Britse Statebond gespeel. In die lande van Suid-Asië, insluitende Indië, Bangladesj, Pakistan en Sri Lanka, is krieket verreweg die gewildste sport. Dis ook 'n gewilde somersport in die Verenigde Koninkryk, Afghanistan, Australië, Ierland, Namibië, Nederland, Nepal, Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Kenia, Zimbabwe en die Wes-Indiese eilandnasies. Veral in lande van die Karibiese gebied soos Antigua en Barbuda, Bahamas, Barbados, Bermuda, Grenada, Guyana, Jamaika en die Turks- en Caicoseilande word krieket as 'n nasionale sport beskou. In lande van die Britse Statebond met krieket as 'n tradisionele somersport soos Australië, Engeland, Ierland, Namibië, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis dien rugby as 'n tradisionele sport vir die wintermaande.

Krieket is die tweede gewildste sport ter wêreld, naas sokker,[1][2][3] met meer as een miljard ondersteuners, veral op die Indiese subkontinent.[4] Krieketwêreldbekers is van die gewildste sportkompetisies wêreldwyd en word in die EDI-vorm gespeel.

Die Internasionale Krieketraad (IKR) is in 1909 gestig en publiseer ook die reëls van die spel wat jaarliks hersien word. 'n Internasionale toetswedstryd kan, in een vorm van die spel, vir 6 of meer uur per dag vir 5 dae aanhou, en nog steeds nie 'n uitslag lewer nie – die verskeidenheid intervalle tussen middagete en tee en die ryk terminologie is kenmerkende aspekte wat maklik dié wat nie met die spel vertroud is nie, deurmekaar maak. Vir sy ondersteuners hou die spel uitstaande sportmylpale en intense mededinging tussen topkrieketnasies in. Dit het selfs al op kere gesorg vir diplomatieke spanning, die berugste geval, dié van die sogenaamde lyf-reeks (Engels: Bodyline series) tussen Engeland en Australië in 1932/33, tydens Die As-reeks. Wedstryde tussen aartsvyande soos Indië en Pakistan met die doel van politieke ontspanning staan as "krieket-diplomasie" bekend.

Krieketwedstryde is al tydens internasionale sporttoernooie soos die Olimpiese Somerspele 1900 in Parys en die Statebondspele 1998 in Kuala Lumpur beslis. In 2019 het die Internasionale Krieketraad bevestig dat 'n Twintig20-toernooi met agt spanne vir vroue tydens die Statebondspele 2022 in Birmingham beslis sal word.[5] Daarbenewens onderhandel die IKR met die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) oor die hertoelating van krieket vir die Olimpiese Somerspele 2028 in Los Angeles.[6]

Doel en opsomming[wysig | wysig bron]

'n Rooi krieketbal, gebruik vir toets-, eersterangse en ander krieketvorme
'n Wit krieketbal, gebruik vir verkorte krieketvorme soos EDIs, T20 en wedstryde wat saans onder spreiligte gespeel word
Twee soorte krieketballe van dieselfde grootte
Die boulaksie

Krieket is 'n bal- en kolfsport waarvan die doel is om meer punte (lopies) as die ander span aan te teken. 'n Wedstryd word opgedeel in kolfbeurte, waartydens die een span boul en die ander span kolf. Twee spelers van die kolfspan probeer om soveel lopies as moontlik aan te teken totdat een van hulle uit is. Dié speler word dan vervang deur 'n ander speler van die kolfspan totdat al die spelers behalwe een uit is. Op daardie stadium is die span se beurt voltooi en die ander span word die kolfspan. As die span wat laaste gekolf minder lopies aangeteken het as die ander span, verloor hulle deur n lopies waar n die verskil is in die tellings tussen die spanne. As hulle die ander span se telling oorhaal, wen hulle die wedstryd met n paaltjies. As die tyd verloop voordat een van hierdie uitslae behaal kan word, is die wedstryd onbeslis en as albei spanne dieselfde aantal lopies aanteken en albei spanne se kolfbeurte voltooi is, eindig die wedstryd gelykop (kom baie raar voor).

Eersteklas krieketwedstryde soos dié tussen provinsiale spanne kan drie of vier dae duur, terwyl die meeste amateurwedstryde 'n enkele middag duur. Sedert die sewentigerjare word ook een-beurtwedstryde deur eersteklasspanne gespeel. Sedert 2007 word daar ook wedstryde gespeel waarvan 'n beurt uit slegs twintig boulbeurte bestaan (sogenoemde T20-wedstryde). Indien, in 'n twee-beurtwedstryd, die span wat eerste kolf almal uit is in hulle tweede beurt met 'n totaal (1ste en 2de beurt) wat minder is as die 1ste beurt-telling van die opponente, dan verloor die span met 'n beurt en n lopies.

In sommige toernooie, veral dié met 'n vaste aantal boulbeurte, word die uitslag slegs bepaal deur die aantal lopies wat aangeteken is. Indien die wedstryd tydelik deur gure weer onderbreek is, dan word daar gewoonlik gebruik gemaak van die Duckworth-Lewis-metode om 'n nuwe, verkorte teiken te bereken.

Krieketreëls[wysig | wysig bron]

Tipiese toerusting wat deur 'n skeidsregter op die veld gebruik word
Die skeidsregter (heel links) dui aan die kolwer is uit – gevang deur die paaltjiewagter – en die bouler vier sy sukses

Die krieketreëls word in drie vlakke verdeel: 42 Krieketwette (Laws of Cricket) wat deur die Marylebone-krieketklub in gesprek met die hoofkrieketnasies ontwikkel is,[7] nasionale reëls wat van toepassing is in 'n spesifieke land en kompetisiereëls wat van toepassing is op 'n bepaalde wedstryd of liga.[8]

Spelers en beamptes[wysig | wysig bron]

Elke span bestaan uit 11 spelers. Afhangende van sy primêre vaardigheid word 'n speler geklassifiseer as 'n bouler of 'n kolwer. 'n Gebalanseerde span het gewoonlik 5 of 6 spesialiskolwers en 4 of 5 spesialisboulers. 'n Speler wat uitstaande is as beide 'n bouler en kolwer staan bekend as 'n veelsydige speler. Een van die spelers in die boul- en veldwerkspan neem die rol van 'n paaltjiewagter aan, wat 'n spesialisveldwerkposisie is.

In 'n tipiese ligawedstryd neem vier beamptes oorsig oor die wedstryd. Twee skeidsregters wie aangewys is deur die liga en twee tellinghouers (Engels: scorers), een aangewys deur elke span, hou die telling. Een skeidsregter staan agter die paaltjies aan die kant van waar daar geboul word en beslis oor die meeste situasies. Die ander een staan naby die posisie wat "regby" genoem word, wat 'n syaansig bied van die kolwer, en beslis oor situasies waarin hy 'n beter aansig het. Die tellinghouers het 'n tafel buite die speelgrens. In meeste professionele wedstryde sal hulle 'n betwiste beslissing verwys na die derde skeidsregter (wat nie op die veld dien nie) en wat die hulp van televisie-opnames en ander gevorderde toerusting (soos hot spot en hawk eye) gebruik om 'n finale beslissing te maak, nadat hy 'n rukkie lank herbesin het.

Die skeidsregters het 'n gevestigde stel handseine om met die tellinghouers te kommunikeer.

Die speelveld[wysig | wysig bron]

Die kolfblad se afmetings
Die krieketspeelveld (Engelse byskrifte)

'n Krieketveld bestaan uit 'n ovaalvormige grasveld. Daar is geen vaste regulasies met betrekking tot die afmetings van die veld nie, maar in hul kompetisies beveel die English Cricket Board 'n diameter van tussen 110 m en 140 m vir volwassenemanskrieket en kleiner velde vir jeugkrieket (tussen 60 m en 100 m vir onder 13 meisies).[8] Die grens van die krieketveld moet aangedui word deur 'n tou of deur 'n wit streep met vlae.

Die kolfblad

Meeste van die aksie vind in die middel van die veld plaas op 'n reghoekige kleistrook met kort gras wat die kolfblad genoem word. Die kolfblad se dimensies is 3,05 m by 20,12 m.

Aan beide kante van die kolfblad word drie regop houtpenne, paaltjies genoem, in die grond ingedruk. Twee kort houtdwarsstokkies, dwarsbalkies genoem, sit in groewe bo-op die drie paaltjies en raak met hulle punte aanmekaar. Elke stel van drie paaltjies en twee dwarsbalkies word saam die paaltjies genoem. 'n Wit streep van 1,22 m voor die paaltjies dui die kolfkamp aan. Een kant van die kolfblad is waar die kolwer staan en die bal inwag, en die ander kant is waarvanaf die bouler boul. Na elke boulbeurt word die boulkante omgeruil; maar die twee kolwers bly só staan, dus kolf die ander kant se kolwer verder in die volgende boulbeurt.

Dele van die veld

Vir 'n wedstryd wat bestaan uit een kolfbeurt per span en beperkte aantal boulbeurte (eendagwedstryd of Twintig20) is daar soms óf een óf twee addisionele veldmerke. Die binnering is 'n sirkel met radius van 27 m gemeet vanaf die middel van die kolfblad. Die nabye-binnering is 'n sirkel met radius van 13,7 m wat getrek word vanaf die paaltjies waar die kolwer staan. Hierdie dele word gebruik in veldwerkbeperkings tydens 'n eendagwedstryd.

Wedstrydstruktuur[wysig | wysig bron]

Veldwerkposisies vir 'n regshandige kolwer
'n Paaltjiewagter en drie veldwerkers wag vir die volgende bal. Die linkshandige kolwer is buite die prent
Die loot

Op die eerste dag van die wedstryd ondersoek beide die kapteins (en hulle raadgewers) die blad en bepaal watter spelers beste gepas sal wees vir die spesifieke blad en kies dan hulle 11 spelers. Die kapteins van die twee spanne loot dan deur 'n muntstuk op te skiet saam met die skeidsregter. Die kaptein wat die loot wen mag dan besluit of sy span eerste gaan boul of kolf.

Die loot in krieket is van baie meer belang as in ander sporte. Omdat die spel so lank is en die gedrag van die kolfblad oor die bestek van 5 dae dramaties kan verander, is dit 'n geweldige voordeel om te kan kies om eerste te boul of te kolf, na gelang van die omstandighede.

Boulbeurte

Die wedstryd word onderverdeel in boulbeurte. Elke boulbeurt bestaan uit ses agtereenvolgende aflewerings deur dieselfde bouler. Geen bouler word toegelaat om agtereenvolgende boulbeurte te boul nie. Na die voltooiing van 'n boulbeurt neem die bouler 'n veldwerkposisie in, en 'n ander speler neem die boulwerk oor. Die kant van waar daar geboul word, ruil ook aan die einde van elke boulbeurt. Die skeidsregter wat dan aan die bouler se kant van die kolfblad gestaan het, beweeg na regby, en die skeidsregter wat op regby gestaan het, beweeg na die kant van die nuwe bouler.

Einde van 'n kolfbeurt

'n Span se kolfbeurt eindig wanneer:

  1. tien uit elf van die kolwers uit is,
  2. 'n span wat 'n teiken (lopies) jaag dit vermag het,
  3. die voorafbepaalde aantal boulbeurte geboul is (in professionele eendagwedstryd is dit gewoonlik 50), of
  4. 'n kolwende kaptein die kolfbeurt gesluit verklaar (dit is nie altyd van toepassing in eendagwedstryde nie).

'n Kolwer se kolfbeurt eindig wanneer:

  1. hy uit is of
  2. hy aftree (hy die veld verlaat weens besering of uitputting) of
  3. sy span se kolfbeurt geëindig het, in hierdie geval is hy "nie uit nie".

Kolwer[wysig | wysig bron]

In sekere omstandighede sal die kolwer so gou as moontlik lopies aanteken, selfs as dit sal beteken dat hy 'n risiko moet neem om uitgehaal te word. In ander omstandighede sal hy sy bes probeer om nie uit te wees nie ten koste van die geleentheid om lopies aan te teken.

Lopies[wysig | wysig bron]

Die Indiese krieketspeler Sachin Tendulkar wag vir 'n geboulde bal

Wanneer die kolwers kolfkampe kan ruil sonder dat die veldwerkers die paaltjies met die bal aanraak word een lopie aangeteken. Die kolwers kry 'n kans om lopies in die volgende omstandighede aan te teken:

  1. Die kolwers slaan die bal buite die gebied van 'n veldwerker of
  2. Die kolwer slaan die bal mis en die paaltjiewagter kan die bal nie stop nie of
  3. Die bouler boul die bal te ver weg van die kolwer af. In hierdie geval word een straflopie aan die kolfspan toegeken.
  4. Die bouler boul 'n foutbal. In hierdie geval word een straflopie aan die kolfspan toegeken.

Wanneer die kolwer die bal oor die grensheining slaan sonder dat dit die grond van die speelterrein geraak het, kry hy ses lopies. Maar as die bal die grond raak voordat dit die grens haal, kry die kolwer gewoonlik vier lopies.

Uit[wysig | wysig bron]

Geboul

Die kolwer kan op verskeie maniere uit wees:

  1. Geboul – As die bouler die kolwer se paaltjies met die bal tref terwyl hy boul, is die kolwer "geboul".
  2. Gevang – As die kolwer die bal in die lug slaan en dit word deur 'n veldwerker gevang sonder dat dit die grond geraak het, is die kolwer "uitgevang".
  3. Uitgehardloop – Indien 'n veldwerker die paaltjies met die bal kan raakgooi terwyl die kolwer voor sy kolfkamp is (gewoonlik terwyl hy probeer om 'n lopie aan te teken), is hy "uitgehardloop".
  4. Been voor paaltjie – As die bal die kolwer se bene tref en andersins die paaltjies sou getref het, is hy "been voor paaltjie" (bvp) uit. Dit is een van die mees omstrede beslissings, en word gereed deur die tv-skeidsregter hersien wat na televisie-opnames kyk.
  5. Paaltjies geslaan – As die kolwer self sy eie paaltjies raakslaan, is hy uit "paaltjies geslaan".
  6. Gestonk – As die paaltjiewagter die paaltjies met die bal neer kan gooi terwyl die kolwer voor sy kolfkamp is en voordat enige ander veldwerker die bal geraak het, is die kolwer "gestonk".
  7. Veldwerker verhinder – As die kolwer die veldwerker verhinder om veldwerk te doen, kan hy uit wees weens "veldwerker verhinder".
  8. Bal twee maal geslaan – Die kolwer kry net een kans om die bal te slaan behalwe as hy sy paaltjies verdedig.
  9. Tyd verstreke – Indien 'n nuwe kolwer meer as drie minute neem om die kolfblad te bereik, kan hy uit wees weens "tyd verstreke".

Lande met Toetskrieketstatus[wysig | wysig bron]

Lidlande van die Internasionale Krieketraad (IKR) volgens status:

   Volle lidlande met toetsstatus (12)

   Geassosieerde lede met EDI-status (8)

   Geassosieerde lede (86)

   Voormalige of opgeskorte lede (8)

   Nielede (23)

Die lande wat toetskrieketstatus het, is:

  1. Vlag van Australië Australië (sedert 15 Maart 1877)
  2. Vlag van Engeland Engeland (sedert 15 Maart 1877)
  3. Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika (tussen 12 Maart 1889 en 10 Maart 1970, en weer sedert 18 April 1992)
  4. Vlag van Wes-Indië Wes-Indië (sedert 23 Junie 1928)
  5. Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland (sedert 10 Januarie 1930)
  6. Vlag van Indië Indië (sedert 25 Junie 1932)
  7. Vlag van Pakistan Pakistan (sedert 16 Oktober 1952)
  8. Vlag van Sri Lanka Sri Lanka (sedert 17 Februarie 1982)
  9. Vlag van Zimbabwe Zimbabwe (tussen 18 Oktober 1992 en 10 Junie 2004, 6 Januarie 2005 en 18 Januarie 2006 en weer sedert 3 Augustus 2011)
  10. Vlag van Bangladesj Bangladesj (sedert 10 November 2000)
  11. Vlag van Ierland Ierland (sedert 22 Junie 2017)
  12. Vlag van Afghanistan Afghanistan (sedert 22 Junie 2017)

Die meeste van hierdie spanne verteenwoordig onafhanklike soewereine nasies. Die uitsonderinge is die Engelse krieketspan, wat beide Engeland en Wallis verteenwoordig; die Wes-Indiese krieketspan, 'n saamgestelde span bestaande uit 15 Karibiese lande en gebiede; en die Ierse krieketspan, wat beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland verteenwoordig.

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. (en) "Playing a Sport With Balls and Bats, but No Pitcher". The New York Times. 3 April 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Augustus 2019. Besoek op 7 Februarie 2021.
  2. (en) "The most popular sport you've never played". The Monitor. 21 April 2009.
  3. (en) "The world's Top 10 most popular team sports". Sportingo. Besoek op 16 Mei 2009.
  4. (en) "ICC survey reveals over a billion fans – 90% in subcontinent". ESPNcricinfo. 27 Junie 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Mei 2019. Besoek op 7 Februarie 2021.
  5. (en) "Cricket to return to Commonwealth Games in 2022 with women's T20s". ESPNcricinfo. 13 Augustus 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 November 2019. Besoek op 7 Februarie 2021.
  6. (en) "ICC working towards cricket in 2028 LA Olympics, says MCC's Gatting". ESPNcricinfo. 12 Augustus 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Desember 2019. Besoek op 7 Februarie 2021.
  7. (en) The Laws of Cricket 2017 Code. Londen: Marylebone-krieketklub. 2017. Besoek op 7 Februarie 2021.
  8. 8,0 8,1 (en) (Byvoorbeeld) "Rules and Regulations – Non-First Class Cricket". Londen: Engelse en Walliese Krieketraad. 2017. Besoek op 7 Februarie 2021.

Bronne[wysig | wysig bron]

  • (af) Uys, Isabelle. (2007). Feitegids: 'n Kernensiklopedie. Kaapstad: Pharos Woordeboeke. ISBN 978-1-86890-065-7. bl. 452 e.v.
  • (en) Guha, Ramachandra (2002). A Corner of a Foreign Field – The Indian History of a British Sport. London: Picador. ISBN 0-330-49117-2.

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]

Olimpiese somersporte Logo van die Olimpiese Spele

Somerspele: Atletiek · Basketbal · Boks · Boogskiet · Driekamp · Fietsry (Bergfietsry · BMX · Bergfietsry · Pad) · Gewigoptel · Gholf · Gimnastiek (Artistiek · Ritmies · Trampolien) · Handbal · Judo · Kanovaart (Slalom · Snel) · Moderne vyfkamp · Ruitersport (Dressuur · Driefasekompetisie · Spring) · Pluimbal · Roei · Seilvaart · Sewesrugby · Skermsport · Skyfskiet · Sokker · Stoei (Grieks-Romeins · Vrystyl) · Taekwondo · Tafeltennis · Tennis · Veldhokkie · Vlugbal (Strandvlugbal) · Watersport (Gesinchroniseerde swem · Sierduik · Swem · Waterpolo)

Voormalige Olimpiese sporte: Baskiese pelote · Bofbal · Jeu de paume · Krieket · Kroukie · Lacrosse · Motorbootresies · Polo · Rackets · Roque · Rugby · Sagtebal · Toutrek