Roemeense nasionale rugbyspan

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Roemenië
Kenteken van die Roemeense nasionale rugbyspan.png
Unie Roemeense Rugbyfederasie
Bynaam(e) Die Eike (Roemeens: Stejarii)
Embleem Eikeblaar
Stadion Arcul de Triumf Stadion
Afrigter(s) Vlag van Engeland Andy Robinson
Kaptein(s) Mihai Macovei
Spankleure


Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetse Florin Vlaicu (120)[1]
Meeste toetspunte Florin Vlaicu (951)[2]
Meeste drieë Cătălin Fercu (33)[3]
Eerste internasionale wedstryd
Vlag van Roemenië Roemenië 0–21 Verenigde State Vlag van Verenigde State van Amerika
(Parys, Frankryk; 1 Julie 1919)
Grootste oorwinning
Vlag van Bulgarye Bulgarye 0–100 Roemenië Vlag van Roemenië
(Boergas, Bulgarye; 21 September 1976)
Grootste nederlaag
Vlag van Engeland Engeland 134–0 Roemenië Vlag van Roemenië
(Londen, Engeland; 17 November 2001)
Wêreldbeker
Verskynings 8/9 (Eerste in 1987)
Beste uitslag Een oorwinning in 1987, 1991, 1999, 2003, 2007 en 2015
Unie webwerf
www.frr.ro

Die Roemeense nasionale rugbyspan, met die bynaam Die Eike (Roemeens: Stejarii) is reeds lank een van die sterker Europese nasionale rugbyspanne buite die Sesnasies-toernooi. Die span neem aan internasionale kompetisies soos die Wêreldbeker, die Europese Nasiesbeker en die Superbeker deel. Rugby in Roemenië word bestuur deur die Roemeense Rugbyfederasie (Roemeens: Federaţia Română de Rugby). Die Roemeense rugbyspan is tans (18 Desember 2019) 19de op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[4] Die span speel in geel en blou kleure. Sedert 2002 ding Georgië en Roemenië om die Antimbeker mee; dié beker is na die Metropolis van Moentenië en Dobroedja van die Roemeens-Ortodokse Kerk, die Georgiër Antim Iverianul, genoem. Sedert 2021 ding Rusland en Roemenië om die Kiseleffbeker mee; dié beker is genoem na die hertog Pawel Kiseleff, 'n Rus wat die eerste grondwette van beide Wallachië en Moldawië (hedendaagse Roemenië en Moldowa) beïnvloed het.[5]

Frankryk het vir die eerste keer in 1924 teen Roemenië gespeel om ’n alternatief tot die Vyfnasiestoernooi daar te stel nadat Frankryk uit die toernooi geskop is as gevolg van beweerde professionalisme. Toe hulle op hulle beste was in die 1980’s, het die span Wallis (twee keer), Skotland (die 1984 Grand Slam-span) en Frankryk (twee keer) geklop. In 1981 het hulle met slegs 14–6 teen die All Blacks verloor nadat twee drieë nie toegelaat is nie. Ná die val van kommunisme het Roemeense rugby egter agteruitgegaan.

Roemenië het egter in byna elke Rugbywêreldbeker gespeel sedert die kompetisie vir die eerste keer in 1987 in Australië en Nieu-Seeland gehou is. Die span se beste uitslag in die toernooi tot dusver is enkele oorwinnings gedurende die poelfase. Spanne soos die Georgië en Portugal, wat beide die Europese Nasiesbeker ses keer gewen, het gedreig om die nasie se plek aan die bokant van die nasies buite die Sesnasies oor te neem. Roemenië het in Poel C gespeel in die Rugbywêreldbeker 2007 saam met Portugal, Skotland, Italië en Nieu-Seeland.

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

Beginjare[wysig | wysig bron]

Roemenië teen Frankryk tydens die Inter-geallieerde Spele in 1919, Stade Olympique Yves-du-Manoir, Frankryk

Rugby is van 1913 af na Roemenië ingevoer deur studente wat met rugbyballe van Parys af teruggekeer het om klubs soos Stadiul Roman te stig. Sewentien ander spanne is later in die hoofstad Boekarest gevorm.

Roemenië se eerste internasionale wedstryd is in 1919 teen die VSA gespeel.

In 1924 behaal die Roemeense nasionale rugbyspan sy eerste oorwinning in ’n internasionale wedstryd teen Pole. Frankryk het vir die eerste keer rugby teen Roemenië gespeel in Mei 1924 toe dié land probeer het om ’n alternatief tot die Vyfnasies daar te stel nadat Frankryk uit die kompetisie geskop is. Frankryk het die eerste wedstryd met 59–3 gewen.

Roemenië was een van die drie lande wat rugbyspanne vir die Olimpiese Somerspele 1924 in Parys ingeskryf het. Frankryk het met 59–3 gewen met dertien drieë insluitend vier deur die Stade Français-vleuel Adolphe Jaureguy. Die VSA het Roemenië daarna 39–0 geklop. Roemenië het derde geëindig om die bronsmedalje te wen. Die Roemeense Rugbyfederasie (Roemeens: Federaţia Română de Rugby) is in 1931 gevorm. In 1939 is ’n span in Braşov by ’n vliegtuigfabriek gevorm wat die eerste span buite Boekarest was.

Naoorlogse tydperk tot die 1980’s[wysig | wysig bron]

Die kommunistiese regering het rugby soos ander sportsoorte as ’n propagandainstrument gebruik tydens die Koue Oorlog met die Weste. Elke internasionale sukses is voorgestel as die direkte gevolg van die korrektheid van die kommunistiese regering en ideologie. Alle finansiële hulpbronne is aangewend ter voorbereiding van die nasionale span wat tot verwaarlosing van binnelandse ontwikkeling van rugby gelei het. Topspelers is deur die leër of polisie in diens geneem, wie se spanne Steaua en Dynamo ses dae per week geoefen het in uitstekende sportsentrums. Hierdie infrastruktuur en beleid het ’n baie talentvolle nasionale span te weeg gebring.

’n Geslag van Fransopgeleide afrigters van die laat 1940–1950’s het ’n stelsel gebou wat gelei het tot nasionale spansukses in die 1960’s, 70’s en 80’s. In die tydperk het Roemenië meer gereeld teen ander nasies begin speel. Die span se eerste oorwinning oor Frankryk is in 1960 behaal en in 1976 het hulle ’n toer na Nieu-Seeland onderneem. Blootstelling aan internasionale rugby het bygedra om die sport in die land te ontwikkel en die Roemene het ’n bepaalde spelstyl begin ontwikkel, gegrond op ’n reusestel sterk voorspelers. Dat die span as ’n ware rugbykrag begin ontluik het was duidelik op Cardiff Arms Park in 1979 in ’n nieamptelike, nie-toetswedstryd. Die Eike het in die doodsnikke van die wedstryd nog voorgeloop en slegs ’n skepskop deur Gareth Davies in die laaste paar minute het aan Wallis ’n 13–12-oorwinning besorg. Die verbetering is in 1980 voortgesit toe Roemenië die Franse vermorsel het in ’n 15–0 rekordoorwinning in Boekarest. ’n Reis na Lansdowne Road het daarna ’n 13–13 gelykopuitslag teen Ierland gelewer.

In die 1980’s kon die land spog met meer as 12 000 spelers in 110 klubs. Tuisnasiespanne het begin om wedstryde teen Roemenië as toetse te beskou in 1983. Wallis het in November 1983 na Boekarest gereis waar hulle deur die Roemene oorweldig is en ’n 24–6-nederlaag moes verduur. Roemenië se eerste oorwinning oor Skotland is in Boekarest in 1984 behaal en hulle eerste wegoorwinning teen ’n Vyfnasiesspan was in 1988 teen Wallis; 15–9 op Cardiff Arms Park.

Roemenië se nasionale span het Wallis (twee keer – 1983: 24–6 in Roemenië, 1988: 15–9 in Wallis), Skotland (die 1984 Grand Slam-span 28–22 in Roemenië) en Frankryk (twee keer – 1980: 15–0 in Roemenië, 1982: 13–9 in Roemenië) geklop en het gelykop gespeel teen Ierland (13–13, in 1980, in Dublin). In 1981 het hulle met 14–6 teen die All Blacks verloor, maar twee drieë is nie toegelaat nie. Roemenië het Zimbabwe met 21–20 verslaan in hulle eerste Rugbywêreldbekerwedstryd in 1987, maar die span kon nie enige ander wedstryde wen nie en het nie na die uitklopfase van die kompetisie deurgedring nie.

Ná die val van Kommunisme[wysig | wysig bron]

Die val van kommunisme in die 1990’s in Roemenië het met politieke en ekonomiese probleme gepaard gegaan, wat ook ’n negatiewe impak op rugby in die land gehad het. Die twee voorste klubs – Dinamo Boekarest en Steaua Boekrest – het onderskeidelik die polisie en leër verteenwoordig. Met die besnoeiing in staatsbesteding het die klubs se befondsing ook drasties geval. Verskeie voorste rugbyspelers het ook in die 1989-rewolusie omgekom. Onder die sterfgevalle was Roemenië se kaptein Florică Murariu, ’n leëroffisier wat by ’n padblokkade doodgeskiet is.[6]

Na-rewolusie Roemeense rugby was egter steeds lewendig. In 1990 het die Roemeense span hulle beste oorwinning tot op daardie stadium behaal deur Frankryk vir die eerste keer in Frankryk met 12–6 te verslaan. Die volgende jaar het hulle Skotland 18–12 geklop. By die Rugbywêreldbeker 1991 het hulle daarin geslaag om Fidji 17–15 te verslaan en so onlangs soos die Rugbywêreldbeker 1995 het Roemenië die uiteindelike wenners, Suid-Afrika, tot ’n eervolle 21–8 beperk.

Professionalisme wat op die Rugbywêreldbeker 1995 gevolg het was egter so te sê ’n doodskoot vir Roemeense rugby.[6] Daar word geskat dat omtrent 200 Roemeense spelers in Frankryk en Italië speel. Nie net spelergetalle het deurgeloop nie, ’n geslag potensiële skeidsregters en administrateurs het ook verlore gegaan.[6] Teen 1994 het Roemenië se rugbyvooruitsigte kwaai gedaal toe ’n Walliese span na Boekarest gereis en ’n 16–9-oorwinning behaal het. In 1997 het die Roemene na Wallis getoer. Die span het teen Wallis A by Pontypridd met 36–21 verloor en 70–21 in ’n toets in Wrexham. By die Rugbywêreldbeker 1999 kon Roemenië weereens slegs ’n enkele oorwinning van 27–25 teen die VSA behaal. Sedertdien het Roemenië se spelergetalle met 75% geval en die aantal klubs na slegs 28, waarvan nie een met hulle eie klubhuis kan spog nie.

Die nuwe millennium[wysig | wysig bron]

Roemenië teen Ierland op Landsdowne Road, Dublin, Ierland, 26 November 2005
Skotland 44–6 Roemenië, 11 November 2006 op Murrayfield, Edinburg, Skotland
Roemenië teen Spanje in Madrid, 2008
Die Roemeense nasionale rugbyspan nadat hulle in 2016 die Pershing-trofee ingepalm het

In 2000 het Roemenië die eerste Europese Nasiesbeker met ’n groot marge gewen met oorwinnings in al vier wedstryde. Teen 2001 het spanne soos Georgië egter by hulle opgevang en het die span hulle verslaan om die 2001 Europese Nasiesbeker te wen, bekroon met ’n beslissende oorwinning van 31–20 oor Roemenië in Boekarest. Die nasionale span het teen Engeland met 138–0 verloor in 2001 en Dinamo Boekrest 151–0 teen Saracens in die Europese Rugbyskild. Verskeie Frankryk-gebaseerde spelers het geweier om vir die nederlaag teen Engeland op te daag omdat hulle ’n week se betaling van hulle klubs sou moes ontbeer. Spelers in die Roemeense span is £30 per dag betaal terwyl Engeland se topspelers £6 000 vir hulle middag se werk verdien het.

In Januarie 2002 is Bernard Charreyre aangestel as afrigter van die nasionale span. Hy is deur die Franse Rugbyfederasie (FFR) beskikbaar gestel wat ook sy kostes gedra het. Onder Charreyre (wat onder die spanlede as 'Klein Napoleon' bekendgestaan het), is die Eike se agteruitgang omgekeer en het die span stadig weer uit die kelder van internasionale rugby verreis. Met die verandering in formaat van die Europese Nasiesbeker het Roemenië in 2002 met ’n agterstand teen Georgië begin as gevolg van die insluiting van 2001-uitslae. Roemenië het egter daarin geslaag om al vyf oorblywende wedstryde te wen, insluitende ’n taai stryd in Tbilisi om ’n 31–23-oorwinning oor Georgië te beklink. Hulle het vir die Rugbywêreldbeker 2003 gekwalifiseer waar hulle Namibië kon klop en met 45–17 teen Ierland verloor ná ’n eervolle vertoning en 90–8 teen Australië en 50–3 teen Argentinië verloor het. Charreyre is ná die Wêreldbeker ontslaan aangesien die Roemeense federasie nie tevrede was met die Wêreldbekervertoning nie en besluit het om nie sy kontrak te hernu nie. Drie ander Franse afrigters het gevolg: eers Phillipe Sauton, vir ’n baie kort tydperk, daarna Robert Antonin as ’n tydelike plaasvervanger en uiteindelik Daniel Santamans.

In die 2003–2004 Europese Nasiesbeker het Portugal verras deur Roemenië 16–15 in Lissabon te verslaan om bo-aan die 2003-tabel te verskyn. In die tweede helfte van die kompetisie het dit gelyk of Roemenië herstel het (36–6 teen Portugal in Constanţa), maar hulle het met 24–33 teen Rusland verloor in Krasnodar ná aantygings van die gebruik van opkikkers. Portugal het daarna hulle eerste titel behaal met ’n laaste-minuut 19–1-oorwinning oor Rusland in Lissabon. In 2004 het die Roemene ’n noue 25–24-oorwinning oor Italië beklink, hulle eerste oorwinning tot dusver oor ’n Sesnasies-toernooispan.

In 2005 is Roemenië 'tweede vlak' status deur die Internasionale Rugbyraad toegeken en het die land Rusland in die Super Powersbeker vervang. Die VSA het ’n Roemeense span wat sonder sy Frankryk-gebaseerde spelers moes speel 23–16 verslaan in die wedstryd om die derde plek. Die 2005–06 Europese Nasiesbeker het ook gedien as die kwalifiserende groep vir die Rugbywêreldbeker 2007. Roemenië het geseëvier ten spyte daarvan dat hulle op punte gelyk met Georgië geëindig het.

Roemenië het vir die Rugbywêreldbeker 2007 in Frankryk gekwalifiseer deur bo-aan hulle poel te eindig in die vyfde rondte van die Europese kwalifiseringstoernooie. Roemenië het hulle eerste kwlifiseringswedstryd op 7 Oktober gewen toe hulle Georgië in Boekarest 20–8 verslaan het. Hul 43–20-oorwinning oor Spanje in Madrid op 14 Oktober het verseker dat hulle direk vir die 2007-toernooi gekwalifiseer het. In Junie 2007 het Roemenië die IRR Nasiesbeker in Boekarest aangebied.[7] Tydens die Rugbywêreldbeker 2007 het Roemenië ’n bonuspunt behaal in die 18–24-nederlaag teen Italië en hul tweede wedstryd teen Portugal by ’n noue telling (14–10) gewen, maar hoë nederlae teen Skotland (42–0) en Nieu-Seeland (85–8) gely.

Op 21 Maart 2009 het Roemenië tuis teen Portugal met 22–21 verloor, en moes toe in ’n opdraande stryd vir die Rugbywêreldbeker 2011 kwalifiseer – die kwalifikasie vir dié toernooi is tydens die Europese Nasiesbekers in 2009 en 2010 bepaal. Roemenië het onoorwonne gebly, met ’n gelykop teen Rusland in die 2010-Europese Nasiesbeker. Die Eike se sterk afronding het hul op die derde plek en die eindfase in die Europese kwalifikasie se uitspelwedstryde geplaas, waarin hulle Oekraïne in twee wedstryde (94–10 algeheel) vir die Europese plek by die finale uitspeelwedstryd vir die Rugbywêreldbeker 2011 kon klop. Roemenië het die laaste kwalifiseerder vir die 2011-toernooi in Nieu-Seeland geword nadat hulle Tunisië (56–13) en toe Uruguay (60–33 algeheel) klop.

Tydens die Rugbywêreldbeker 2015 kon Roemenië die wedstryd teen Kanada onderstebo draai, nadat die Kanadese met 15 punte voor was; die Roemene kon dié wedstryd egter 17–15 beklink en sodoende die grootste terugkeer in die rugbywêreldbekergeskiedenis tot dusver aanteken.[8]

In November 2016 kon Roemenië tuisoorwinnings oor die VSA, Kanada en Uruguay aanteken.[9]

Roemenië is, saam met België en Spanje, nadat hulle tydens die kwalifisering vir die Rugbywêreldbeker 2019 ongeskikte spelers ingespan het, vir elke wedstryd met hierdie spelers met puntaftrekking beboet.[10][11] Vervolgens kon die drie spanne nie vir die 2019-toernooi kwalifiseer nie; vir Roemenië die enigste toernooi tot dusver wat hulle misgeloop het.

Rekords[wysig | wysig bron]

Algehele rekord[wysig | wysig bron]

Roemenië se plek op Wêreldrugby se ranglys vanaf 10 Oktober 2003 tot op hede

Roemenië het teen 18 Desember 2019 255 van hulle 445 toetswedstryde gewen, ’n wenrekord van 57,3%.[12]

Roemenië se toetsrekord teen alle lande: (Korrek op 18 Desember 2019)[12]

Teen Gespeel Gewen Verloor Gelykop % Gewen
Vlag van Argentinië Argentinië 8 0 8 0 0
Vlag van Argentinië Argentinië XV 5 4 1 0 80
Vlag van Australië Australië 3 0 3 0 0
Vlag van België België 7 7 0 0 100
Vlag van Brasilië Brasilië 1 1 0 0 100
Vlag van Bulgarye Bulgarye 2 2 0 0 100
Vlag van Duitsland Duitsland 11 6 5 0 54,5
Vlag van Engeland Engeland 5 0 5 0 0
Vlag van Fidji Fidji 3 1 2 0 33,3
Vlag van Frankryk Frankryk 50 8 41 2 15,7
Vlag van Frankryk Frankryk A 1 0 1 0 0
Vlag van Frankryk Frankryk XV 5 0 5 0 0
Vlag van Georgië Georgië 23 9 13 1 39,9
Ierse Rugbyvoetbalunie-vlag  Ierland 9 0 9 0 0
Vlag van Ierland Ierland XV 1 0 0 1 0
Vlag van Ierland Opkomende Ierland 1 0 1 0 0
Vlag van Italië Italië 42 16 23 3 38,1
Vlag van Italië Italië A 4 2 2 0 50
Vlag van Italië Opkomende Italië 2 2 0 0 0
Vlag van Japan Japan 6 1 5 0 16,7
Vlag van Japan Japan XV 1 1 0 0 0
Vlag van Kanada Kanada 8 6 2 0 75
Vlag van Marokko Marokko 8 7 0 1 87,5
Vlag van Namibië Namibië 6 5 1 0 83,3
Vlag van Nederland Nederland 7 7 0 0 100
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland 2 0 2 0 0
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland XV 1 0 1 0 0
Vlag van Nieu-Seeland Opkomende All Blacks 1 0 0 1 0
Vlag van Oekraïne Oekraïne 3 3 0 0 100
Vlag van Oos-Duitsland Oos-Duitsland 13 12 0 1 92,31
Vlag van Pole Pole 16 14 2 0 87,5
Vlag van Portugal Portugal 24 21 3 0 87,5
Vlag van Rusland Rusland 22 15 6 1 68,2
Vlag van Serwië Serwië 1 1 0 0 100
Vlag van Skotland Skotland 13 2 11 0 15,4
Vlag van Sowjetunie Sowjetunie 22 18 3 1 81,82
Vlag van Spanje Spanje 24 22 2 0 91,67
Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika 1 0 1 0 0
Vlag van Tsjeggië Tsjeggië 6 6 0 0 100
Vlag van Tsjeggië Tjeggoslowakye 18 17 0 1 77,8
Vlag van Tunisië Tunisië 4 3 1 0 75
Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State 5 1 4 0 20
Vlag van Wallis Wallis 8 2 6 0 25
Vlag van Wes-Duitsland Wes-Duitsland 9 8 1 0 88
Vlag van Zimbabwe Zimbabwe 4 4 0 0 100
Totaal 445 255 178 12 57,3

Wêreldbekerrekord[wysig | wysig bron]

Jaar Uitslag
1987 Poelfase
1991 Poelfase
1995 Poelfase
1999 Poelfase
2003 Poelfase
2007 Poelfase
2011 Poelfase
2015 Poelfase
2019 Geen deelname
2023 N.v.t.

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. (en) "Most matches". ESPNscrum. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Oktober 2013. Besoek op 18 Desember 2019.
  2. (en) "Most points". ESPNscrum. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Oktober 2013. Besoek op 18 Desember 2019.
  3. (en) "Most tries". ESPNscrum. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Oktober 2013. Besoek op 18 Desember 2019.
  4. (en) "World Rugby Rankings". Wêreldrugby. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Mei 2020. Besoek op 18 Desember 2019.
  5. (ro) "CUPA KISELEFF, TROFEU CE VA FI PUS ÎN JOC LA MECIURILE DINTRE ROMÂNIA ȘI RUSIA". Federația Română de Rugby. 3 Maart 2021. Besoek op 20 Maart 2021.
  6. 6,0 6,1 6,2 (en) [1] Geargiveer 25 September 2007 op Wayback Machine, Romania look to raise standard[dooie skakel], besoek op 19 September 2007.
  7. (en) "IRB". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Oktober 2013. [dooie skakel]
  8. (en) "Vlaicu completes dramatic comeback for Romania". ESPNscrum. 6 Oktober 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Desember 2019. Besoek op 18 Desember 2019.
  9. (en) "November gain or pain?". Wêreldrugby. 5 Desember 2016. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 November 2019. Besoek op 18 Desember 2019.
  10. (en) "Independent Appeal Committee decision regarding Romania and Spain". Wêreldrugby. 6 Junie 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 April 2019. Besoek op 18 Desember 2019.
  11. (en) "Russia handed 2019 World Cup spot". ESPNscrum. 15 Mei 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 September 2019. Besoek op 18 Desember 2019.
  12. 12,0 12,1 (en) "International Rugby Union Statistics – Romania". ESPNscrum. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Augustus 2018. Besoek op 18 Desember 2019.

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]